Bestuur u plaas as volhoubare ekostelsel


Wat bedoel ek as ek sê dat die plaas as deel van 'n "ekostelsel" bestuur moet word? Wat is 'n ekostelsel? As ons praat van 'n ekostelsel bedoel dit die "huis" waarin diere voorkom en leef. Dit sluit in die klimaat, weer, grond-tipe, fisiese eienskappe (berge, rivierlope, vlaktes ens.), plantegroei, interaksies tussen plante en plante, diere en plante, diere en diere asook die mens. Al hierdie faktore saam vorm 'n ingewikkelde stelsel wat deur verskillende interaksies aan mekaar verbind is (bv. verskillende plante wat op sekere plekke groei, diere wat plante vreet, plante wat met mekaar kompeteer, diere wat met mekaar kompeteer en diere (insluitend die mens) wat ander diere vreet). Ekologie is die studie van al hierdie interaksies, beide in wildernis gebiede (met minimum menslike invloed) en mens-veranderde gebiede soos plase en selfs stede. Ekologie hou verband met natuurbewaring en biodiversiteit deurdat 'n ekostelsel met groter biodiversiteit (meer spesies) gewoonlik ook meer stabiel en volhoubaar is as en spesie-arm ekostelsel. 'n Stuk land waarop 'n enkele gewas verbou word, sal spoedig tot niet gaan sonder die gereelde versorging en inset van die boer, terwyl 'n groot genoeg wildernis-gebied onbepaald kan voortbestaan sonder enige menslike inmenging. Dit is die wetenskap van ekologie wat natuurbewaarders in staat stel om te besluit op die beste bestuur sodat spesies kan bly voortbestaan en natuurlike prosesse voortgaan. Maar die punt is dat of die boer dit besef of nie, elke plaas is deel van 'n ekostelsel van een-of-ander aard. Of dit nou 'n veeplaas is met natuurlike weiding, of 'n vrugteboord wat deur insekte vanaf die omliggende natuurgebied bestuif word, die interaksies met die omgewing en lewende organismes beïnvloed die boerdery op die plaas.

Dit is goed en wel om te weet dat my plaas deel van 'n ekostelsel is, maar waarom sal dit my bestuur raak? Die kort antwoord is eenvoudig: volhoubaarheid. Dit is maklik om 'n plaas bv. heeltemal te oorlaai met vee en in die eerste jaar groot wins te maak, net om in die tweede jaar en later met veld te sit wat só oorbewei is dat geen mens meer vir jare daarop sal kan boer nie. Natuurlik is dit nie wat enige ware boer wil hê nie.


newdevel [by] chavoux [punt] com

Valid XHTML 1.0! Valid CSS!

This web page was hand coded using the Bluefish HTML editor.